Saturday, March 22, 2008

GODSPROFETE OF HOFPROFETE-ALLAN BOESAK

Prof Allan Boesak just celebrated 40 years in fulltime ministry. Herewith his sermon at the service which commemorated this lifetime achievement:

Op 24 Februarie sal dit veertig jaar gelede wees dat ek as bloedjong predikant in die Paarl bevestig is. Ek het as teks vir my intreepreek 1 Konings 22:14 gekies, die vlammende woorde van die profeet Miga ben Jimla teenoor koning Agab: “Sowaar as die Here leef, ek sal sê net wat die Here my beveel om te sê!” Dit teenoor die begeerte en die druk van maar liefs 400 “hofprofete” om by die afgesproke “Godspraak” van die meerderheid in te val, die koning na die mond te praat en hom te verseker dat sy planne ook God se planne is.
1968 was die einde van ‘n beslissende dekade: Poqo, die slagting van Sharpeville, die Rivonia- en die Hoogverraadverhore en die begin van die Robbeneiland-mistiek; Cottesloe, Beyers Naudé, die Christelike Instituut en die slag om die siel van die kerk. My gemeente moes sluk aan die bitter vrugte van die Groepsgebiedewet. Díe teks het my aangegryp. Ek wou praat oor wat ek gesien het as die groot versoeking en keuse waarvoor die kerk staan: Godsprofeet of hofprofeet. Ek het toe vir die eerste keer die kerk beskrywe as “die inkarnasie van God in die wêreld”. Ek het elke woord bedoel; maar wat, in my jeugdige vuur, het ek toe geweet van wat so ‘n keuse inhou, en wat dit sou kos?
In hierdie week van terugskouing, nadenke en nabetragting lees ek van Terry Crawford-Browne, die Christen-aktivis teen oorlog, wapenvervaardiging en wapenhandel en sy stryd met ons regering. Vir die soveelste keer vat die Minister van Finansies, Trevor Manuel, vir Crawford-Browne hof toe oor die voortslepende saga van die R60 bijloen se wapenaankope, en oor wat die minister sien as aanhoudende aanvalle op hom en die regering. Wat ons vandag alom die “wapenskandaal” noem (en dit ís dit ook) is nie al wat Crawford-Browne drywe nie. Sy diepe besorgdheid is dat die regering sy grondwetlike pligte versuim deur die prioriteite wat hy stel, soveel geld verspil op wapens wat die land nie nodig het nie en sy verpligtinge teenoor die armes nie nakom nie. Wat hierdie afgetrede internasionale bankier ontstel is nie net die fiskale onsinnighede nie, maar die doelbewuste keuses van ons regering, wat die vervaardiging en verkoop van wapens insluit. Wat hom dryf is nie haat of ego nie, maar die Christelike oortuigings waarvoor hy openlik staan. Hierdie man is ‘n profeet. Hy was dit in die anti-apartheidstryd, en hy is dit vandag nog. Sy aandeel destyds aan ons veldtog vir internasionale finansiële sanksies teen die apartheidsregering het hom sy loopbaan gekos. Toe al moes hy die keuse maak: Godsprofeet of hofprofeet. Hy maak dit weer, en die prys wat hy betaal is nie gering nie.
In 2004 het die einste Trevor Manuel die kerke ernstig aangespreek oor hul stilswye oor publieke sake, iets “van die laaste tien jaar” sê hy, “wat my die meeste pla”. Dié uitdaging vir die kerk is volgens hom om soos in die verlede “die inkarnasie van God in die Suid Afrikaanse konteks te wees”. Dié gewigtige woord het my beskaamd na my intreepreek teruggevat. Trevor is waaragtig reg! In antwoord daarop het ek toe geskryf dat Trevor die UDF-aktivis weet waarvan hy praat en dat ons sy woorde ter harte neem; dat hy die profetiese kerk meegemaak het, maar dat hy hopelik ook verstaan wat hy vra. Dat hy dus weet wat om te verwag as die kerk in Suid Afrika inderdaad haar stilswye breek en weer die “inkarnasie van God” in Suid Afrika word; kies om eerder Godsprofeet as hofprofeet te wees.
Dis ironie op ironie. Noudat die kerk wel profeties optree, wel die stilte breek en sê “net wat die Here wil” en nie soos die regering verlang nie, is dieselfde minister erg ontstoke. Wees versigtig waarvoor jy bid, wil ons vir Mnr Manuel sê. Ook dít is egter nie verbasend nie: reeds Calvyn het ons gewaarsku dat regerings net gevlei wil word en enige teregwysing haat. Crawford-Browne is in hierdie saak die profeet wat die kerk te bang is om te wees. Hy vlei nie en praat nie na nie; hy vra deurdringend na die verband tussen ons wapenhandel en –aankope en die lot van die armes. Met Calvyn glo hy dat as regeerders “hoog in hul torings” geen notisie neem van die geroep van die noodlydendes nie, hulle “hiermee onomwonde gewaarsku word dat sulke oogluikende misdadigheid nie ongestraf sal wegkom nie”. Maar hierin - ek sê dit tot ons skande - is hy meer kerk as die kerk wat oor die armes ween, maar in al ons institusionele gestaltes oor hierdie lewensbelangrike saak amper geen sinvolle woord te sê het nie.
Sal ek die teks nou weer preek? Jaseker. Die sake vandag is anders as in 1968, maar die uitdagings, soos die Woord, is dieselfde. Soos ook die keuse: Godsprofeet of hofprofeet?
Post a Comment